| Tuisblad | Troues: gay en straight | Aikona Moses! | Watter soort kerk? | GayPastoorinmyKop | Wat Die Kapel Glo |
Watter soort kerk?
Progressiewe kerk Alternatiewe mense Intellek & Intuisie

Watter soort kerk is Die Kapel

 

Die Kapel is ‘n kombinasie van baie kerksoorte:

 

Ons is die soort kerk wat soos ‘n familie funksioneer – kerke wat ‘n bywoningsyfer van 50 en minder het funksioneer op die manier.

Verder is ons 'n alternatiewe stadsgemeente. 'n Alternatiewe kerk se lede is baie divers in leefstyl en oortuigings en bestaan uit al die alternatiewe groeperings waaruit alternatiewe gemeentes se lede gewoonlik kom.

Laastens is ons 'n progressiewe gemeente. In die hoedanigheid verteenwoordig ons 'n wegbreek van die klassieke, evangeliese en hoofstroom Christelike leerstellings en onderskryf ondersoekende teologie.

Ons fokus op gemeenskapsontwikkeling omdat ons glo dat dit die lewe van enige mens wat Jesus se leer en voorbeeld navolg definieer. 

 

Wie is ons teikengroep?

Mense wat die tradisionele Christelike leer ontgroei het en in gemeenskapsverband na mekaar en die gemeenskap wil uitreik. 

 ‘n Kern-eienskap van Die Kapel is die gevoel van familie-wees waarbinne 'n verskeidenheid van mense mekaar aanvaar.

Omdat ons ‘n alternatiewe klomp mense is beteken dit beslis nie dat almal in ons gemeente mekaar verstaan of dieselfde belangstellings deel nie. In vele opsigte leef ons beslis op verskillende planete. Ons almal deel egter die sentiment dat ons deel is van ‘n diverse geheel

Ons getalle was al baie groter en dit het inderdaad in daardie tyd onmoontlik geraak vir elke lid om al die ander lede te ken. Ons het ervaar hoedat mense wat lank gehoop het vir groter getalle, uiteindelik nie die groei kon waardeer toe hulle soos nommers begin voel het nie. ‘n Groot gemeente met baie programme is nie vir ons nie.

Ons getalle het afgeneem vir meer as een rede. Onder andere het mense, as gevolg van Philip se boekvrystelling en persblootstelling, uit groot gemeentes na ons toe oorgekom en nie lank by ons gehou nie. Ons kon hulle nie die bevrediging van hulle behoefte aan professionaliteit in musiek en die luukshied van duur toerusting en geboue waarmee hulle gekondisioneer was bied nie. Mense wat boonop daarvan hou om voortdurend baie nuwe mense te leer ken, ontmoet ook nie groot genoeg getalle by ons nie en raak binne ‘n jaar of wat rusteloos by Die Kapel.

In Die Kapel moet ‘n lid daarvan hou om in ‘n klein gemeente te leef en met baie soorte mense klaar te kom. Jy moet ook bereid wees daartoe om 'n gestroopte en uiters progressiewe teologiese beskouing te akkomodeer.

Dit sou akkuraat wees om te beweer dat die gemeente onbewustelik, en Philip bewustelik, daaraan werk om die groep intiem te hou. Philip weet uit ondervinding in veel groter gemeentes dat hy as pastoor hierdie soort gemeentekultuur en bedieningstyl verkies. Philip vereenselwig hom nie met ‘n korporatiewe, programmatige en homogene kerkkultuur nie. Hy is ‘n mens vir teologie, filosofie, sielkunde, kunste, mensekennis, verhoudings en veral bevraagtekening van die status quo. Hy identifiseer baie sterk met die alternatiewe soort mens, alhoewel hy die hoofstroom kan waardeer en weet hoe om daarby in te val wanneer dit nodig sou wees. Dis veilig om te sê dat hoofstroom mense wat daarvan hou om met alternatiewes skouers te skuur by ons gemeente tuis voel. So sal alternatiewe mense wat wel daarvan hou om met konvensionele mense skouers te skuur ook by ons tuis voel.

 

Dit is veral mense wat daarvan hou om slegs met hulle eie soort mense te assosieer wat nie by ons gemaklik is nie. Dit geld vir finansiële ambisie teenoor boheemse minimalisme, stadsgerigheid teenoor natuurgerigtheid en alle ander teenpole. Ons gemeente is jou gemeente as jy van ‘n mengelmoes hou. Philip is ‘n mengsel van baie wêrelde as gevolg van sy grootwordjare, die gesin waaruit hy kom, sy vrydenkendheid, sy ondersoekende aard, sy seksualiteit en sy agtergrond in die kerk.

 

Ons gemeente verskaf ook ‘n tuiste aan mense wat nie kans sien vir die fundamentalistiese dogma van die konvensionele Christelike kerke en hul leerstellings nie. Daar is wel fundamentaliste in ons gemeente, maar hulle het die openheid om met vrydenkendes interaksie te hê en hulle oop te stel vir nuwe invalshoeke sonder om bang te wees vir dwaling of kontaminasie.

 

Fundamentalistiese Christene wat rigied is oor die leerstellings van die kerk sal beslis na hulle asems snak in ons gemeente. Ons karring aan elke geloofstuk behalwe aan die bestaan van God self. Alles wat die kerk vanuit die Bybel oor God dink kom deur mense se refleksie en is daarom nie in yster gegiet nie. Ons is mense wat geykte leerstellings bevraagteken en voel dat ons intuïsie ons noop om anders na dinge te kyk as wat gevestige kerke ‘n mens toelaat.

 

Ons is nie ‘n Bybelgefundeerde kerk nie, maar ‘n kerk wat met ernstige besinning soek na meer as wat die Bybelskrywers gesien en meegedeel het. Ons glo dat God nie die gordyn op Godsperspektief met die skryf van die eerste Bybelboek oopgetrek of weer toegetrek het die dag toe die laaste Bybelboek geskryf is nie. Ons minag nie die Bybel nie, maar ons aanbid nie die Bybel nie. God is nie die Bybel nie. Die Bybel is ook nie die papierweergawe van God nie. Ons volg die stem in ons harte terwyl ons die Bybel bestudeer. Ons dwing nie die Wetenskap of die Sielkunde of die Biologie om by die Bybel aan te pas nie. Die Bybel staan voor die tyd van die wetenskap en is daarom nie in stryd met die wetenskap nie. Die Bybelskrywers het nie met die wetenskap gestry nie want daar was geen wetenskap in hulle tyd nie. As hulle vandag gelewe het sou hulle ook deur teleskope gekyk het. Die Bybel se prentjies van God is nie akkurate openbarings van God nie, maar menslike en onperfekte ervarings van God wat deur hulle vlakke van ontwikkeling ingekort is. Die Bybel is dus nie die Woord van God nie, want God praat vandag voort en ons leer steeds al meer van die kosmos, die mens en die lewe. Die Bybel is antieke mense se weergawe van hulle pad met God. Ons bou daarop voort en word nie daardeur na oerkonsepte teruggedwing nie.

 

Die Kapel het tans 44 volwasse lede. Daar is drie kleuters in die gemeente.

 

Ons sosialiseer binne belangstellings soos fliek, teater, kunswaardering, stap ensovoorts.

 

Ons het nie selgroepe nie, omdat ons grootte, sowel as ons alternatiewe profiel, ons noop om as ‘n eensellige organisme te funksioneer. Navorsing toon dat so ‘n klein gemeente verdeel word indien selgroepe ingestel word en dat dit die aard van die gemeente skade aanrig.

 

Die profiel van die alternatiewe kerkganger is een wat nie bloot in Bybelkennis belangstel nie, maar ook vra vanwaar uit die antieke mensdom se ontwikkeling die verskillende Bybelse gedeeltes hul oorsprong het. Philip maak baie van reekse – veral oor temas in die Bybel wat mense in ou wêreldbeskouings vashou. Die wyse waarop Philip die temas aanspreek is egter toeganklik sodat dit nie ‘n akademiese gevoel het nie, maar ‘n praktiese toepassing gemaak kan word.

 

Dis ook belangrik om eenheid in die gemeente te verseker deur nie die reeds-diverse groep indiwidue te versplinter nie. Die pastoor dien as saambindende faktor omdat hy as gevolg van sy agtergrond ‘n brug kan bou tussen tradisies en alternatiewe denke en ook in sy persoon by baie soorte mense tuisvoel. Philip is ‘n sterk mengsel van regterbrein intuïsie en kunssinnigheid aan die eenkant en linkerbrein analise en studie aan die anderkant. Omdat mense kom en gaan in Johannesburg en ons gemeente ook ‘n sterk deurvloei van lede het is Philip byna die enigste faktor wat historisiteit en kontinuïteit besorg. Philip is al twee-en-twintig jaar in Melville en geografies baie sterk ingeburger en bekend in die gemeenskap. Die moontlikheid van versplintering in alternatiewe gemeentes is groot, maar met bogenoemde eensellige funksionering en Philip se voortdurende teenwoordigheid as die saambindende simbool, bly ons gemeente voortbestaan en het ons nog nooit uitmekaargeval nie.

 

Die predikant van ‘n klein pastorale gemeente is ook die sentrale figuur, net soos die geval in alternatiewe gemeentes is. Philip delegeer take, verantwoordelikhede en gesag. Behalwe vir take wat integraal deel is van die samekomste word alle ander projekte slegs op ‘n ad hoc basis aangepak en sal sodanige informele spanne of komitees weer ontbind sodra die taak uitgevoer is. Philip respekteer mense se tyd te en toon baie waardering daarvoor wanneer mense tyd inruim om groot take aan te pak of klein takies volgehou te verrig. Sy invalshoek ten opsigte van take is een van waardering en nie van druk en kritiek nie. Die gemeente is tans besig met gemeenskapwerk wat met die oog op volhoubaarheid aangepak word.

 

Die gemeente sal moontlik uitmekaar kan val indien Philip oorwerk, uitgebrand, geisoleer of beveg word. Wanneer die harmonie versteur word is die fondasie van enige pastorale sowel as alternatiewe gemeente daarmee heen. Omdat ons gemeente nie homogeen is nie, maar divers, is die stabiliserende simbool die persoon van die pastoor en word hy die gom wat al die lede van die verskillende groepe aan mekaar verbind. Om daardie rede is sy goeie verhoudings met elke lid vir Philip van kardinale belang. Brug bou, eerder as differensieer, is die motto.

 

Die sterkpunte van ons gemeente is Philip se praatjies op Sondae en  ons gemeente se gemeenskapsgerigtheid. Philip wissel in-diepte Bybelverklaring en praatjies waarin antieke denke duidelik afgesweer en in konteks geplaas word af met praatjies oor die alledaagse, die psigiese en terapeutiese aspekte van ons menslike ervaring. Philip werk dikwels intuïtief met oerkonsepte en beelde van God omdat ons glo dat die finale prentjie van God nie in die sketse van antieke profete te vinde is nie, maar dat die afleidings wat die mens oor God maak voortdurend ontwikkel. Ons buig nie voor die Bybelskrywers nie, maar voor God. Ons minag nie ons eie aanvoelings ten gunste van hulle s'n nie.

 

Die sleutel eienskap is dat die gemeentelede direk bedien word deur ‘n teologies-opgeleide persoon en nie deur studie-programme wat deur leke bestuur word nie. Geen formele Bybelstudies en gebedsgroepe word gehou sonder die teenwoordigheid van die pastoor nie. In alternatiewe gemeentes vind mens baie uiteenlopende sieninge en kerkagtergronde. Indien dit nie bygelê word deur iemand wat die verskille kan oorbrug nie kan dit tot niksseggende stryery en monoloë lei en die gemeente weerhou van die ontwikkeling van nuwe paadjies. Gebedsgroepe het al gely onder die gemeente se uiteenlopende invalshoeke op siekte en rampe en finansiële probleme. Mense wat hulle finansies swak bestuur is al hoop gegee met skreeusessies op Satan wat hulle “geld steel”, terwyl ander gebedsgenote kopskuddend gewonder het wat van doodgewone finansiële dissipline geword het. Mense met spirituele aanvoelings is al bestook oor “vreemde goed” soos meditasie omdat ander met konvensionele Christelike agtergronde nie werklik verstaan waaroor meditasie gaan nie en geleer is dat dit “heidens” is. Daar kan ewe maklik spanning onstaan tussen persone wat boosheid op tradisionele wyse aan die bestaan van 'n werklike Satan sien en diegene wat dit as mitologiese figuur beskou terwyl hulle glo dat boosheid vanuit mense se motiewe te voorskyn kom. So glo sommiges dat God Sy Seun vir ons sondes geoffer het omdat slegs 'n bloedoffer Sy woede kon blus, terwyl ander glo dat dit 'n antieke bloedoffer mentaliteit is wat die dood van Jesus so interpreteer. Min klassieke Christene besef hoe divers die Christendom eintlik nog altyd was en hoeveel gevegte die een weergawe as botoon gevestig het. Of mens dit wil weet of nie - daar is nie net een manier om met Jesus se verhaal te deel nie. Die Christene van die eerste 100 jaar het reeds verskillend daarmee gedeel, maar die leek is daarvan onbewus. Selfs die perspektief op die kruisiging se betekenis was nie in die Nuwe Testament dieselfde nie. 'n Chronologiese herrangskikking van die NT se boeke sal dit openbaar vir die wat die tyd wil neem om dit na te speur. In ‘n gemeente soos Die Kapel is dit onontbeerlik dat ‘n pastoor die punte bymekaarbring en die pole versoen.

 

Philip is dus persoonlik beskikbaar vir elke lid van die gemeente. Die nadeel hiervan in die verlede was dat die hy soms uitgeput geraak het en nie genoeg tyd vir studie en navorsing kon inruim nie. Die probleem word oorbrug deurdat ‘n vrywillige adminpersoon sy oproepe ontvang en hy nie voortdurend konsentrasie moet verloor terwyl hy navorsing doen nie. Die tweede oplossing is dat Philip slegs gemeentesake en teologiese vrae adviseer en dat sielkundige kwessies na professionele terapeute verwys word. Lidmate is tog altyd welkom om met lewensvrae te kom aanklop op soek na die bystand van ‘n mentor of klankbord.

 

Omdat die hoofkenmerk van klein pastorale en alternatiewe gemeentes uit ‘n direkte predikant-tot-gemeente en lidmaat-tot-elke-ander-lidmaat interaksie bestaan, maak die model dit onmoontlik vir ons gemeente om groter as 50 bywoners en 100 lede te word.

 

‘n Nuweling kom uit eie wil nader en word eers na drie maande se besoek tydens 'n dag-lange lidmaatkursus by die gemeente ingeskakel. Philip maak stadig kennis met nuwelinge omdat hy hulle eers die ruimte wil gee om sonder druk te besluit of hulle wil inskakel. Nuwelinge laat weet gewoonlik vir Philip sodra hulle besluit het om by die gemeente aan te sluit.

 

Lidmate dra finansieël by soos wat hulle agtergrond hulle lei. Daar is die wat daarin glo om ‘n tiende van hulle salaris of ‘n groterige bedrag te gee, en hulle gee dit vrywillig op ‘n maandelikse basis. Van lede wat geen oortuiging het in die verband nie, word verwag om ‘n lidmaatskapfooi te gee wat tans R300 per maand beloop. Die bydraes word elektornies gedoen. Van werklose kapellers en pensioenarisse word niks verwag nie.

 

Van die geleenthede wat ons in Die Kapel vir lidmate bied is om Sondae kerk toe te kom en ook deel te neem aan die verhoudingslewe van die gemeente. Dit sluit die koffie-en-koek kuiers na dienste, die sosiale geleenthede wat ons reël en ander saamdoengeleenthede in. Ons is ‘n klomp soettande bymekaar. Die belangrikste deel van lidmaatskap is egter om betrokke te raak by een van ons gemeenskapontwikkelings projekte.

 

Wat van die soort mens wat nie graag by die kerk wil sosialiseer nie? Indien ‘n lid slegs Sondae vir die diens wil kom sit en by die deur wil uitglip sonder om te sosialiseer, verkies daardie lid die “teater modus” betrokkenheid by die gemeente. Dis hoegenaamd nie onaanvaarbaar nie en ons besef dat mense soms nie lus het vir meer interaksie nie, en hoewel ons graag meer vir so 'n persoon sal wil bied, respekteer ons dit indien iemand voel dat dit is hoe hy of sy dit verkies. All sorts make a world. 'n Alternatiewe kerk verwelkom alle soorte mense.

 

Die meerderheid verkies wel meer as ‘n teaterervaring wat beteken dat hulle nie deel van ‘n gehoor (audience)  wil wees nie, maar lede van 'n familie. Dit beteken nie dat ons mekaar gereeld sien of in mekaar se sakke leef nie, maar dat ons vir mekaar daar is wanneer dit nodig is. Ons almal leef besige stadslewens, maar het 'n besondere omgee vir mekaar.

 

Kapellers woon nie slegs vir hulle eie ervaring die byeenkomste by nie, maar ook ter wille daarvan om van die byeenkomste ‘n sukses te maak en daar hulle vriendskap aan die res van die gemeente te kom bied. Kaplellers woon dienste gereeld by en bly oor die algemeen nie sonder goeie rede weg nie.

 

Die Kapel is nie trendy nie, maar eklekties en die klem val op verhoudings. Ironies genoeg beteken dit dat ons emosioneel intelligent genoeg is om jou uit te los as jy regtig net wil inglip vir die praatjie en dadelik weer uit. Die lewe werk mos maar soms vir mense so.

 

Ons is dus jou kerk as jy ‘n verskeidenheid mense kan akkomodeer. Jy sal tuis voel indien jy teologies ondersoekend en gestroop van fundamentalisme is. Kapellers kleef nie aan die Christelike leer en tradisies vas nie, maar breek stuk vir stuk daaruit soos wat hulle na die waarheid soek. Ons het in daardie verband toleransie met mekaar omdat ons as aardbewoners soekers is en soekers sal bly.

 

Die Kapel is ‘n onopgesmukte saamwees ervaring.

 

Die Kapel is ‘n onbeperkte, soms asemsnakkende, teologiese ervaring.

 

Die Kapel is ‘n kaleidoskoop van soorte.

 

Die Kapel reik uit na die gemeenskap om mense te bemagtig wat in onmag verkeer. 

 

 

 

0828732484