| Tuisblad | Troues: gay en straight | Aikona Moses! | Watter soort kerk? | GayPastoorinmyKop | Wat Die Kapel Glo |
Aikona Moses!
Mag ek van die Bybel verskil oor vroue, gays en ander goed?
 
 

AIKONA MOSES! - Mag ek van die Bybel verskil oor vroue, gays, tweede huwelike en ander goed? 

Laai Aikona Moses gratis af in pdf formaat en lees op jou rekenaar/foon of druk dit en gaan lees dit oor die naweek vir 'n lekker kopskuif.

Koop dit as e-boek aanlyn by Amazon 

Uittreksel uit AIKONA MOSES! 

HOOFSTUK 8

Paulus se boeie

Die boeie waarmee die Christelike kerk haarself aan die denke van Paulus se tyd vasgebind het, het in sommige gevalle diep kepe om gelowiges se gewrigte ingesny. Die feit dat Paulus se standpunte oor sosiale aangeleenthede in die Bybel geskryf staan, het ons eeue lank laat dink dit is hoe God oor hierdie onderwerpe dink. Gelukkig het ons as moderne gelowiges opgehou om Paulus in alles na te praat. ʼn Hele paar van sy boeie is al ontsluit en van ons gewrigte afgehaal. Paulus het vir jare al nie meer die finale stem in gelowiges se lewens nie.

Ons spel dit nou wel nie so uit nie, maar dit beteken dat ons almal lankal nie meer aan die Bybel die finale seggenskap in ons lewens gee nie! Daar is niks daarmee verkeerd nie.

Ek was behoorlik verlig toe ek die dag besef het dat ek mag inval by die kerk se gestoei met voorskrifte vanuit die Bybel op soek na toepassings vir ons tyd. Dit is nou indien die voorskrif wel toepaslik is in ons samelewing. Daar bestaan beslis so iets soos ʼn Bybelse stelling wat net vir antieke mense sin kon maak omdat hulle toe nie van beter geweet het nie. ʼn Mens kan lelik mistas indien jy voetstoots alle sosiale strukture uit die dae van die Bybel in ons dag wil rekonstrueer. Besighede gebruik tog nie meer ou organigramme nie. Die basiese beginsel van eerlike besigheid geld steeds - die beginsel dat koper en verkoper albei gelukkig moet wees na afloop van die transaksie. Die wyse waarop ondernemings gestruktureer word, het egter baie verander sedert die tyd van die Ou Jerusalem. Op dieselfde wyse gebruik baie mega-gemeentes nie meer die Bybelse gemeentestrukture nie. Diakens en ouderlinge word vervang met strukture wat veel meer gesofistikeerd en verwikkeld is. Waarom? Omdat hulle anders wil wees? Omdat hulle teen die Bybelse gedagte van ouderlinge en diakens rebelleer? Nee, dis bloot omdat hulle beter vaar wanneer hulle van innoverende bestuurstyle gebruik maak. Dit gaan alles oor konteks; die verskil tussen toentertyd en vandag. Kennis het baie verbreed.

 

Boei 1: Matige menseregte

Die gedagte dat daar ʼn tyd was toe ʼn ryk landheer dorp toe kon ry om ʼn ander mens te gaan koop, skreeu vandag teen alles wat ons as reg beskou. Verbeel jou jou ma sit lipstiffie aan, poeier haar neus en groet jou by die voordeur met: “Skat, ek sien jou ʼn bietjie later – ek gaan net gou vir ons nog ʼn paar mense koop, want ek sien die wat ons het raak nou op.” Dis hoe dit was in Paulus se tyd. As hy deur my en jou oё daarna kon kyk, sou dié radikale man dalk ten minste net probéér het om ʼn beweging vir die totale bevryding van slawe op die been te bring, maar hy het die kettings om hulle enkels in plek gehou. Hy het die bolgewigte nagesien: Bly by jou baas. “Sies, Paulus,” wil mens amper vandag sê. Maar in Paulus se tyd was hy én die arme slawe nog redelik blind vir die ongehoordheid van die maatskaplike bestel van slawerny.

Ons leef in ʼn kultuur wat al ʼn paar eeue gelede uitgeroep het: “Genoeg is genoeg - basta met slawerny!” Die Christendom se wegdoenbenadering tot hierdie onderdrukking het tweehonderd jaar gelede van Paulus se gematigde benadering af weggeswenk. Ons het `n hele paar stappe verder as Paulus gegaan en daarmee beter as hy gevaar in die pleging van wat reg is teenoor slawe. Die mensdom se etiese aanvoeling verbeter in die meeste gevalle soos die tyd aanstap. Ons sien slawerny vandag as `n crime against humanity, terwyl dit `n algemene gebruik in Israel was wat met wette bestuur is.

Dit is dus sinneloos om Paulus te veroordeel omdat hy hom nie vir die afskaffing van slawerny beywer het nie. Ek kan daaroor frons en daarvan dink wat ek wil, maar een ding mag ek nie uit die oog verloor nie; Paulus het in ʼn ander tyd geleef en hy was in sy tyd vasgeverf. Ek weet nie wat hy van slawerny gedink het nie, maar al sou hy ook ʼn mate van afkeur daarin gehad het, het hy slawe gepaai om geduldig te wees en die eienaars van slawe wat Christene geword het – soos Filémon, Onesimus se eienaar – gevra om broederlik met hulle slawe te werk, maar nie om hulle vry te laat nie. Paulus het selfs vir Filémon gerusgestel dat hy na sy slaaf se lang afwesigheid `n kans staan om hom nou vir altyd te besit! Dit is al wat Paulus vir slawe beteken het; hy het dinge vir `n slaaf beter gemaak sonder ʼn belofte dat hy die saak in sy wese met die owerhede sal opneem. Dat hy ʼn petisie daarteen sal optrek en dat Petrus en die ander dit sal onderteken.

Indien God se immergroen uitgangspunt in Paulus se Bybelse uitsprake te vinde was, was daar vandag nog slawe, maar hulle base sou darem menslik wees. Paulus se reëling was nie God se finale wil nie. Daar het, God sy dank, ʼn tyd aangebreek dat die mensdom so verfynd geraak het in sy sosiale gewete dat ons die stap kon neem wat Paulus nie kon neem nie: om slawerny te verdoem en wortel en tak uit te roei.

Vandag se predikante beveel Christenvroue ook nie meer om hulle onredelike mans met ʼn trap-op-my gesindheid te beïndruk sodat hulle tot bekering kan kom nie. Ons weet ʼn vroueslaner gaan bly slaan solank as wat daar ʼn vrou is wat sal stilstaan dat hy kan slaan. Hy slaan so lekker, bekering is die laaste ding waaraan hy dink. Nee, ons skreeu: “Vlug! Los die buffel en gaan soek vir jou ʼn beter man.” Paulus was nie tot daar gevorder nie. Hy was ʼn leraar van sy tyd. Soos wat hy slawerny as ʼn onvermydelike gegewe aanvaar en klem lê op die goeie getuie wat dit ʼn Christen slaaf maak indien hy homself aan die sisteem onderwerp, so aanvaar hy ʼn moeilike man as ʼn onvermydelike gegewe en beweer dat ʼn vrou se onderdanigheid van haar ʼn bekerings-katalisator in haar man se lewe maak.

Ons kan nie vandag weer na Paulus se benaderings terugkeer nie, want sy benaderings was maar net die begin van `n lang pad van maatskaplike verfyning, nie die einde daarvan nie. Ons leef nader aan die einde van etiese ontwikkeling as Paulus. Hy was nog in die golwe van die Mediterreense See, ons is al met die skip hier in Afrika. Baie het gebeur sedert sy tyd. Ek meen, sal ek sy raad inwin oor die wiel en die motorkar? Of nog beter: sal ek hom vra om my te help kies tussen ʼn kameel en ʼn vliegtuig wanneer ek volgende keer met vakansie reis? Aikôna. Ons tyd en Paulus se tyd dink nie eenders oor menseregte en maatskaplike kwessies nie. Ons het boei nommer een oopgesluit deur die pad end-uit te stap.

 

Boei 2: Geskeides mag net met hulle oorspronklike eggenote hertrou

Hierdie boei is behoorlik los, want daar is selfs geskeide predikante wat in tweede huwelike staan. Volgens die Bybel erken God nie ʼn geskeide se huwelik met ʼn tweede lewensmaat nie. Trouens; die Bybel sê dat so ʼn huwelik ʼn konstante staat van egbreuk vergestalt. Paulus sê in 1 Korintiërs 7:10 en 11: “Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat ʼn vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen.”

Hierdie is die een voorskrif waarin Paulus dit uitspel dat hy ʼn direkte bevel van God ontvang het. Ons leef  in daardie geval lynreg teenoor die Here se bevel. Ons dink sonder om eenkeer vir die Here “sorrie” te sê, heeltemal anders as Hy oor hertrou. Geen wonder die Katolieke kry die aapstuipe oor ons hertrou-etiek nie. Ons is so gewoond aan skei en hertrou dat ons dit nie eens meer raaklees nie. Dit wys jou wat kondisionering kan doen. Nietemin; ons besef vandag dat Paulus se bevel nie noodwendig altyd die beste raad aan geskeides is nie en ag dit nie as `n bindende klousule wat die Here self by Paulus se lessenaar onderteken het nie.

Die meeste kerkgenootskappe se opinie oor hertrou het van Paulus se denke af weggeswaai en dit sal nooit weer terugswaai nie. Ons redeneer al jare lank met hierdie duidelike voorskrif. Ons stoei met hom. Stry met hom. Buig hom totdat hy ons pas. Ons as predikante trou geskeides met nuwe maats en die Christengaste en -familielede slaak ʼn sug van verligting oor die tweede kans wat die Here die geskeides gee na ʼn lewe van hel saam met hulle eerste eggenote. ʼn Tweede huwelik is ʼn wonderlike geleentheid om van die onreg in jou eerste huwelik te vergeet. Om van die blou kolle op jou arms gesond te word indien jy met ʼn koekroller toegetakel is. Of om ʼn slag in ʼn dierbare man se omhelsing te lê as jou eerste man ʼn maaifoedie was. Dit doen niemand skade nie. My gewese vrou is vandag gelukkig getroud met ʼn heteroseksuele man. As sy die Bybel moes gehoorsaam moes sy óf alleen bly óf weer met haar gay man trou. Dit sou haar lewe onaangenaam maak. Eensaam. Arm aan seksuele vervulling. Waarom? Geen rede nie, net omdat die Bybel so sê. Dis sou baie dom en onnodig wees om haar met `n teksvoorskrif te dwing om van haar vyf-en-dertigste jaar af vir die res van haar lewe alleen te bly.

 

Boei 3: Vroue is mans se minderes

ʼn Paar dekades gelede het sinodes vroulike kerkgangers se koppe uit hulle hoede vrygelaat. Dit was ʼn groot gestry en gesukkel om tot daardie besluit te kom. Paulus was duidelik daaroor: vroue moet hulle koppe toemaak omdat mans God se heerlikheid op aarde weerkaats, nie hulle nie. Hulle, die vroue, weerkaats hulle mans se heerlikheid. Nou kyk; in Antieke Israel het ʼn lap op ʼn vrou se kop dalk beteken dat sy haar man toelaat om te skitter van die heerlikheid, maar in ons tyd en kultuur is die lap vervang met ʼn ontwerperskroon en dít het beteken dat ʼn vrou skreefogies en stywenek in die kerk sit en pronk het oor haar éie heerlikheid wat so lekker blink. Die ding het glad nie in ons tyd gedoen wat Paulus wou hê hy moes doen nie, en dis goed so.

Hoewel daar vandag nog vroue is wat hoede kerk toe dra, doen dié wat ek ken dit net omdat hulle mooi voel onder daardie swierige afdakkie. Die gedagte dat dit hulle mans moet verheerlik, het hulle lank reeds gelaat waar dit hoort – in die Ou Nabye Ooste.  Op hierdie tydstip in 2014 is manshoede ʼn groter modegier. Ek dra myne selfs aan tafel. Enkele weke gelede eet ons by vriende toe ʼn vroulike gas my tong-in-die-kies kapittel; ek is ongeskik en moet my hoed afhaal terwyl ons eet. Ek het egter vrede met vanmelewe se etiket en het dit vriendelik en skertsend vir haar gesê. Ons leef in ʼn tyd waarin jy ʼn hoed opsit wanneer jy wil en hom afhaal wanneer jy nie meer vir hom lus het nie. Dit het niks met jou geslag te make nie. Ons glo dat alle mense – vroue ook - God se heerlikheid weerspieël. 

Paulus (en my oorlede oupa) se coiffeur val in ons kultuur net so eienaardig op ʼn mens se oor: “Menere, julle moet julle hare kort sny. Julle is nie vroue nie, my boetas. Julle is heelwat hoër op in die hiërargie. Dis ʼn skande dat julle sulke takhare is.”

Niemand glo nog dat hare se lengte enige iets met enige iets te make het nie. Behalwe met persoonlike keuse, hare se tekstuur en ʼn gesig se vorm.  Die sterkste bulle word vandag toegelaat om met lang hare op die rugbyveld uit te draf. Ons geniet  ʼn heerlike blaaskans na al die jare se gekibbel oor eienaardige beuselagtighede.

Die moderne kerk het ook nie net die hoed-boeie losgemaak nie. Die stel boeie waarmee Paulus vroue wat preekstoel toe wou stap aan hulle sitplekke vasgebind het, lê ook vandag aan skerwe in talle kweekskole. Ons susters preek dat die spoeg so spat. Van hulle preek my voete skoon onder my uit.

Kyk bietjie of jy met hierdie sentiment kan identifiseer: Paulus sê in 1 Kor. 14:34 dat dit ʼn skande is vir ʼn vrou om in die kerk te praat. Skande. Hy was nogal lief vir daardie woord. Wat het gemaak dat hy so sterk daaroor voel dat ʼn vrou moet stilbly in byeenkomste? Dis iets waarmee ons gladnie kan een voel nie – ek het in my kinderdae al na Kathryn Kuhlman se preke geluister. Sy het ʼn hond uit ʼn bos gepreek. Die feit dat hy die woord “skande” so kwistig daar ingegooi het, het vir my `n venster op die chauvinisme van sy tyd oopgemaak. Om te dink dat ons daardie uitspraak vir jare ernstig opgeneem en vroue verbied het om te preek. Dit was nogal ongaaf van ons.

Die venster op die destydse Antieke Nabye Ooste se chauvinisme maak selfs groter oop; Paulus se opvatting kom vir my op sy heel sterkste deur in sy brief aan die jonge dominee Timotheüs. Hy skryf in 1 Timotheüs 2:9-15:

“ʼn Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. Ek laat haar nie toe om onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ʼn heilige lewe, en daarby beskeie bly.”

Kom ons aanvaar vir die duur van hierdie argument dat ons almal die Skeppingsverhaal in Genesis as ʼn letterlike weergawe van die menslike ras se ontstaan beskou: Hoe kan `n mens beweer dat Adam onskuldig was aan die etery in die tuin met die leuen dat net die arme Eva haar laat verlei het om te eet? Vergewe my ʼn tikkie tong-in-die-kies sarkasme: dit is met ander woorde ʼn doodsonde as ʼn groen boomslang jou verlei en jy val vir sy appeltjie, maar as ʼn vrou jou verlei en jy eet, is dit niks.

Paulus sê dat Eva haar redding in moederskap sal vind. Hy weerspreek homself, want hy is die één apostel wat onteenseglik aan die Galasiërs gesê het dat ʼn mens niks by Christus kan voeg om gered te word nie. Geen goeie werke nie en ook nie kastyding nie. Ons almal weet dat ons mistastings slegte gevolge het, maar om daardie slegte gevolge te verduur maak nie dat ons gered word nie. Nou beweer Paulus in hierdie betoog dat Eva deur moederskap gered sal word. Dit rym hoegenaamd nie met die Evangelie nie. As vroue moet kinders baar en beskeie moet wees om hulle redding te verseker, moet ons as mans werkholiste wees en aan wêreldklas ondernemings geboorte skenk om ons plek in die hiernamaals te beveilig - Adam se straf was mos om in die sweet van sy aanskyn sy brood te verdien. Dan weet ek wie die hemel se hoofseun gaan wees: Donald Trump. As kinders sou ons gesê het dis voortrekkery; Paulus slaan net vir Eva terwyl Adam lekker saam geeёt het. Net Adam mag ʼn leier wees. Net Adam mag in die kerk praat. Ons as moderne kerke doen beter as dít. Ons doen beter as om iemand stil te maak in die kerk net omdat sy laaste gemaak is, en ons sien Adam en Eva as ewe skuldig aan die etery in die tuin van Eden. Nie eers diegene wat  ʼn letterlike aanneem van die verhaal voorstaan, sien hierdie kwessie soos Paulus dit sien nie. Die ganse Christendom weet dat die mens se morele dilemma nie tot vroue beperk is nie. Ons vroue aanvaar nie vandag dat dit is hoe die Here oor hulle dink nie. God is nie ʼn Joodse man uit die jaar toet nie.

Ek dink aan die talle vroue op kansels wie se preke my al beïndruk het.

Daar het al baie vroue in my gemeente gepraat. Daar is van hulle wat niks te sê het nie; sodra hulle begin praat is ek spyt dat ek hulle ʼn spreekbeurt gegee het. Maar so was daar al mans wat my my vingers laat tik het van ongeduld. Ons almal ken sulke mense: Hulle het niks te sê nie, maar wil om die dood nie ophou praat nie. Spreekbeurte in die kerk het in ons dae met geslag niks te make nie. In Paulus se kultuur kon vroue nie eens vrae in die kerk vra nie – in ons kultuur is ek verbaas oor hoeveel mans se vrae my eie dogter kan beantwoord. Sommige mans se ego’s is wel so deurspek van die Indoena-mentaliteit dat hulle vroue aan die stillerige kant verkies. Ek het so ʼn man geken: Sy vrou het tot in hulle middeljare alleen die Here gedien. Toe hy tot bekering kom, kondig hy aan dat sy nou moet terugstaan omdat hy “haar priester moet wees”. Na ʼn paar maande van ingehoue frustrasie het sy eendag teenoor my afgeblaas: “Ek is baie dankbaar dat my man nou saam met my kerk toe gaan, maar ek kan nie meer so suutjies trap nie. Mamma wil nie meer stilbly tydens Bybelstudies net omdat Pappa tot bekering gekom het nie. Ek is bly oor sy ontdekkings in die Woord, maar ek kan nie maak asof alles vir my ook nuut is nie. Ek kan baie waardevolle bydraes lewer.” Die waarheid was dit:  Daardie man kon nie sy gesin se Bybelstudieleier wees nie, want hy moes nog baie groei om te kom waar sy vrou was. Sy vrou wat al die jare alleen die Here gedien het.

Ons luister gelukkig darem nie meer vir Paulus waar dit by vroue se spreekbeurte in die kerk kom nie. Die boei is oopgesluit. Om vroue uit die bediening weg te hou, pas nie by ons agting van die vrou nie. En wat meer is: dit pas nie by ʼn Christelike Kerk om patriargaal te wees nie. Wat nog te sê, so ekstreem patriargaal soos wat die antieke beskawings was. As NASA ʼn vrou in die ruimte kan instuur, waarom sou die Here haar nie ʼn preekstoel laat beman nie? Ekskuus vir die wals, maar ʼn preekstoel is baie laer as die maan. God wil tog nie in 2012 ʼn vrou in Suid Afrika uit haar kantoor jaag en saam met haar Lot in die woestyn laat rondswerf om die sout(pilaar) van die aarde te word nie. Sou God ʼn vroulike dokter agter die kospotte wil indruk terwyl haar stetoskoop in ʼn laai lê en stof vergader? Of ʼn man sonder ʼn greintjie leierseienskappe dwing om die voortou te neem terwyl hy sy vrou met elke stukkie swak leiding aan lyding onderwerp? Aan frustrasie en onmondigheid. Sy skop die kat en raas onnodig hard met die kinders as sy dit nie meer kan hou nie - dit alles met die vrome troosgedagte dat haar man haar intens sal liefhê  (lees: sagkens sal onderdruk) indien sy hom op ʼn preekstoeltroontjie hou.

Paulus dink sekerlik ook nie meer soos wat hy op die aarde gedink het nie. ʼn Ewigheid het al verbygegaan sedert die tyd toe hy nog in ʼn spieёl en ʼn raaisel gekyk en ten dele profeteer het. Ek glo hy hou seker baie van Joyce Meyer. Miskien kan hy haar vir tee nooi as sy daar anderkant aankom. Net om “jammer” te sê. Het hy al vir Kathryn Kuhlman “jammer” gesê? En vir tannie Sannie de Ferriër van die AGS? Ek glo so. Maar wag, ek is verkeerd – hy hoef nie “jammer” sê nie, want hy het maar net in opregtheid, vanuit sy tyd se denke, reëls gemaak wat heel gepas was binne sy kultuur. Dit moet fantasties wees om dinge so vanuit ʼn nuwe, ewige hoek te kan bekyk. Ek beny hom dit omdat ek nog in `n spieël en `n raasel kyk, en ten dele profeteer, terwyl ek hierdie boek skryf.

 

HOOFSTUK 9

Boei 3 swaai nog aan ons een gewrig: vroulike ondergeskiktheid

 

Die vrou se bevryding van Paulus se hoedopdrag en preekverbod beteken ongelukkig nie dat ons ten volle van sy denke oor vroue bevry is nie. Hierdie stel boeie se slotte is so erg vasgeroes dat ons nog net een hand kon loskry. Die boeie hang nog al swaaiende en lastig aan die ander hand. Ons sal bietjie aan die sleutel moet wikkel dat hy ook kan oopspring, want as daar nou een antieke opvatting in die kollektiewe psige van die samelewing is wat my as man in my emosionele ontwikkeling en geestelike groei strem, is dit die manier waarop Paulus en sy kultuur my geleer het om oor vroue te dink. Die feit dat Paulus se voorskrifte aan die vroue van sy tyd vir altyd in die Bybel geskryf staan, veroorsaak dat die Christendom wêreldwyd ʼn sekere kultuur se opvattings oor die rol van die vrou as God se wil beskou. So het dit in ons as Westerse mans se psige beland.

Ons dink op ʼn sekere manier oor vroue. Oor die vrou se plek in die samelewing.  Oor die vrou se plek in ons lewens. Of sy nou my vrou, my vriendin, my kollega, my lidmaat, my ma, my suster, my tannie of my niggie is; mans en vroue is ook in ons kultuur ongelyk en het ongelyke seggenskap. Hoewel die ongelykheid heelwat afgeplat is sedert Paulus se tyd, rig die oorblyfsel daarvan my en elke man wat so dink sielkundige skade aan. Dit rig vroue vanselfsprekend skade aan. So noodsaaklik as wat dit was om slawe te bevry, so nodig is dit dat ons ons eie denke, en ons vroue se gemoedere, van hierdie boei uit die Bybelland bevry. Nie halfpad nie; heeltemal. Ons is al oppad uit die woestynland van ouds, maar op ʼn kameel se rug. Dis heeltemal te stadig. Ons moet op ʼn vliegtuig spring sodat ons gouer in ʼn plek van volwaardige respek vir vroue kan aanland.

 

Waarom glo ek dat ons as mans, soos vroue, hierdeur benadeel word? Omdat dit aan ons die subtiele mandaat verskaf om oral waar ons met vroue saamleef en -werk in beheer te wees. Ook omdat dit aan ons ʼn ewe subtiele gevoel van superioriteit gee oor alle vroue met wie ons in aanraking kom. Ons is net vlees en bloed – daarom móét die plek van gesag waarin Paulus ons bokant vroue aanstel mos ʼn ongesond-lekker gevoel in ons psige veroorsaak.

 

Ek dink dat hierdie ʼn groot knoop in ons as moderne mans se harte is wat lê en wag om losgekarring te word: ons moet doelbewus kies om soms doodluiters te volg waarheen `n vrou ons lei. Passasier wees sonder om te kyk of die bestuurder die regte roete volg. Ons moet sommer net leisels oorgee, oë toemaak en ontspan. Net so terloops: moenie die fout maak om te dink dat ek as ʼn gay man nie ʼn manlike ego het nie ˗̶ dis juis een van die groot uitdagings in gay mans se verhoudings.

 

Ek weet nie wat mans die eerste keer so oor vroue laat dink het nie,  maar ek weet wel waarom die meeste Westerse kerke vandag nog tot ʼn groot mate in die konsep van vroulike onderdanigheid inkoop: ons besef dat ons die konsep erf vanuit ʼn kultuur wat vreeslik op vroue neergesien het, maar omdat dit in die Bybel staan, voel ons dat ons op `n manier aan die beginsel gehoor moet gee. Dis soos om ʼn bottel vloeistof te ontdek met die etiket: “Aandag alle mans: Drink hiervan vir ʼn volmaakte huwelikslewe” daarop geplak. Met die afdraai van die prop ruik die drankie bietjie sterk en bitter en jy besluit dat mens dit seker met water moet verdun voordat jy dit drink. So gooi jy ʼn lepeltjie van die gif in jou glas, verdun dit met baie suikerwater en gooi dit in jou keelgat af. Wat jy nie weet nie, is dat jy gif ingekry het. Omdat dit baie verdun is maak die gif jou nie dood nie; jou lewer en niere kry wel swaar. Maar dit weet jy nie, want die soet smaak op jou tong laat jou glo dat jou huwelik piekfyn gaan wees.

Dit is hoe ons met die onderdanigheidsbeginsel werk: dis Bybels. Almal moet daarvan drink, so glo ons. Ons weet die Midde-Ooste werk nogal rof met vroue; dan water ons dit af totdat ons beskawing dit kan sluk sonder om te spoeg of daarvan naar te word. Ons dink ook dat Paulus ons taal praat. Dat hy genoeg water bygevoeg het om die konsep vir ons vroue te laat werk. Dat hy die perfekte formule beet het: Die vrou moet haar man gehoorsaam en hy sal die suikerwater van beskermende liefde byvoeg om dit vir haar drinkbaar te maak. Die Pauliniese water wat ons as Westerse kerke byvoeg om manlike oppergesag aanvaarbaar te maak, is die belofte dat ons ons vroue lief sal hê. Dat ons hulle sal beskerm, versorg en geestelik lei. Ons dink daardie suikerwater kom van God af. Ons is verkeerd. Paulus se definisie van liefde lyk heeltemal anders as ons s’n. Ons maak daardie tyd se verhouding tussen mans en vroue airy fairy met ons afgewaterde interpretasie van wat Paulus oor die huwelik geglo het. Wat ons nie raaksien nie, is dat ons by ʼn giftige sisteem probeer inpas in plaas daarvan om die gif te sien vir wat dit is.

Ons moet goed nadink oor die kultuur waaruit Paulus sy voorgestelde huwelikstruktuur aan die destydse Christene voorhou. Selfs al sou Paulus ook ʼn afwatering van manlike oorheersing in gedagte gehad het, is dit steeds nie goed genoeg nie. Ons moet beter doen as hy. Ons moet heeltemal van sy kultuur se vertrekpunt oor die vrou wegbreek en iets nuuts in die plek daarvan stel. Dit help nie ons gooi water by die Midde-Ooste se huweliksrolle nie. Hulle perspektief op die vrou is iets waarvan ons nie ʼn greintjie behoort te behou nie. Dis soos om die ou krummels van 1966 se Kersfeeskoek in die koekblik wat jy van jou ouma geërf het, te ontdek. Vanjaar se Kersfeeskoek gaan vrot word as jy nie al daardie ou krummels uitwas voordat jy dit daarin sit nie. Salmonella is giftig.

Ons moet die beginsel van vroulike onderdanigheid in sy geheel verwerp omdat dit uit ʼn kultuur kom wat vroulike minderwaardigheid en onmondigheid voorstaan. Om te glo dat ʼn man 51 persent aandeel in ʼn huweliksvennootskap het en sy vrou net 49 persent is ʼn giftige oortuiging. Ons moet die gif uitgooi en die bottel goed uitspoel. Ons moet Paulus se opvatting oor die huwelik uit ons handboek vir die lewe uitwas met ons hedendaagse respek vir die vrou as mondige, volwasse mens wat gelykwaardig aan die man is. Net soos wat ons Paulus se versagte vorm van slawerny uit daardie tyd uit ons handboek vir die lewe uitgewis het. Ons laat nie vandag mensehandel toe op voorwaarde dat jy die mense wat jy gekoop het as jou broers en susters in die Here beskou en daarom vir hulle goed moet wees nie. Ons neem mense in hegtenis wat ander mense koop en verkoop. Ons verwerp die hele konsep. Die oorblyfsel daarvan in ons huidige huishulp sisteem is ook uitgewis. Ek mag nie meer elfuur in die aand in die rigting van my huishulp se kamer roep dat sy die skottelgoed moet kom was net omdat sy in my erf woon nie. Sy sal my CCMA toe vat as dit nie deel van haar kontrak met my is nie. Huiseienaars is nou werkgewers en nie meer landhere wat inwonende dienaars se energie besit nie.

 

Die moderne kerk se Westerse weergawe van vroulike onderdanigheid kom nie van God af nie. Dis ons en Paulus se konkoksie. Ons eie breinkind  ̶ die produk van ʼn moderne brein wat met ʼn antieke brein saamspan. Hoe subtiel dit ook al in baie gevalle mag wees, dit bly ʼn onregverdigbare ongelykheid. Vroue is nie kinders nie. Die hedendaagse vroue het, net soos mans, liefde nodig, maar nie noodwendig finansiële versorging en geestelike leiding nie. Mans en vroue is in ons kultuur gelyke vennote wat ewe veel insette lewer en ewe veel seggenskap verdien. Elkeen het ook sy of haar unieke sterkpunte en verdien om in daardie arenas die leiding te neem. `n Vrou mag selfs haar man se dominee wees, en `n man `n tuisbly-pa. Die lewe druk niemand meer in rigiede rolle in nie. Alle mans is nie leiers nie en alle vroue is nie volgelinge nie. Wat natuurlik ewe onregverdig is, is wanneer `n man sy vrou wel haar plek in die korporatiewe lewe gun, maar steeds van haar verwag om tuis alleen die mas teen die skottelgoed en kosmakery op te kom.

Wanneer ek ʼn paartjie trou, vra ek nooit vir die bruid om te belowe dat sy die bruidegom sal gehoorsaam nie. Ek as Westerse man het nie ʼn aanpassing op die Bybelse perspektief op vroue nodig nie. Ek moet nuut gaan dink sonder Israel van ouds se breinspoeling. Die moderne wêreld het ʼn totaal nuwe respek vir vroue ontwikkel. Dit is in ons land se konstitusie opgeteken. Waarom moet dit moeilik wees om Paulus se idee in die tyd te laat waar dit vandaan kom? Ons het mos reeds die bolgewigte om slawe se enkels losgemaak. Ons het mos reeds Paulus se idees oor vroue wat preek verban deur Joyce Meyer se preke te koop. Dan behoort dit mos nie moeilik te wees om nuut oor die rol van die man en die vrou in die huwelik te dink nie. Dink net hoe maklik dit vir ons is om ons moderne common sense in te span wanneer ons ʼn troue bywoon waar twee geskeides met mekaar trou. Maklik. Ons hoef nie eers daaroor te bid nie. So waarom die Bybel vra om vir ons te sê of die vroue wat saam met ons leef, werk, kuier, eet en kerk toe gaan ons gelykes is? Ons weet hulle is. Ons weet dit baie goed, want ons leef in 2014.

Let’s just  get with the program.

 

HOOFSTUK 10

Boei 4: Homoseksuele is duistere, ongeestelike en onnatuurlike hellekinders

 

Ons verskil vandag van die Bybel oor hoe Christene onderdrukking moet hanteer. Ons verskil van die Bybel oor kerkhoede en vroue wat preek. Ons verskil van die Bybel oor tweede huwelike. Duisende van ons beskou ʼn vrou as haar man se gelyke vennoot. Maar, derduisende van dié wat saam met ons in al die bogenoemde lewensfasette uit die wêreld van die Bybel uitgespring het, sukkel daarmee om oor homoseksualiteit van die Bybel te verskil. Die ses tekste in die Bybel teen homoseksualiteit hamer met `n gedawer in hulle koppe: “Die Bybel sê, die Bybel sê, die Bybel sê!”

Hulle skryf vir my e-posse.

Hulle raas opreg besorgd met my oor hoe duidelik die Bybel daaroor is.

Hulle is bekommerd oor my siel. Bang dat ek sal hel toe gaan.

 

Hier is my antwoord: Dis mos nie ʼn nuwe moffie-gier om van die Bybel weg te swenk en moderne mense se opvattings bo dié van die Bybel te ag nie. Dis nie net ons moffies wat moderne denke inspan wanneer ons die Bybel lees nie – die ganse kerk doen dit. Ek as gay man hoef myself dan mos nie meer met die Bybel oor die kop te slaan in `n tyd waar niemand meer na Bybeltekste gryp om te besluit of vroue mag preek en moet kerkhoede dra, en of geskeides weer mag trou nie. Dis tog nie net oor sommige sake wat `n mens wyer as Bybeltekste mag dink nie.

Dat die ganse Protestante Christendom doodgemaklik daarmee is dat geskeides teen Paulus en Jesus se bevele in vir ʼn tweede en derde maal trou, behoort ons almal te laat besef hoe normaal dit is dat opregte gelowiges die gay tekste se finale seggenskap ook kon afsweer.

My lewensmaat vertel dat hulle eendag vir sy broer se seuntjie op die plaas gevra het hoe hy weet ʼn bul is ʼn bul. “Ek kan mos thien!”, het hy verontwaardig gelispel. Ons kan ook mos sien dat ons inkonsekwent met die Bybel se voorskrifte werk wanneer ons party voetstoots aanvaar en ander intelligent beredeneer. My pleidooi is dat ons die antieke reëls almal beredeneer, nie net sommiges nie, en dat ons dan alles afgooi wat nie die toets van ons tyd se ernstige bepeinsing deurstaan nie. Dit is net té teenstrydig dat geskeide kerkraadbroers self in tweede huwelike staan terwyl hulle gay lidmate onder sensuur plaas en vroue die kansel belet. Hulle oortree die hertrou-verbod, maar hulle hou gay gelowiges streng by die  gay-verbod.

Dit is waarom gay kerke ontstaan het. Ons as gay gelowiges sit in groot getalle in gay gemeentes omdat dubbele standaarde op ons toegepas word. Hierdie skeiding tussen gay en straight gelowiges is onnodig, want geen moderne kerk of Christen is letterlik “Bybels” nie. Daarom is dit onnodig om bekommerd te wees oor die “onbybelsheid” van ons as gay gelowiges. Ek kan nie begryp hoe gemeentes heteroseksuele paartjies wat in tweede huwelike staan kan akkommodeer, en dan weier om gay pare se verhoudings te akkommodeer nie. Die een is so onbybels as die ander. Waarom breek ons nie in die gays se geval ook weg van Bybelse etiek nie? Waarom die gay tekste as skeidslyne tussen Christene gebruik terwyl die ander skeidslyn nie meer geld nie?

Dit laat my dink aan hoe ons in die AGS in my kinderdae met die dooptekste aangegaan het. Ons het dit as ons godgegewe taak beskou om Gereformeerdes te roskam omdat hulle “nog nie gedoop is nie”. Ons het hulle as ongered beskou omdat die Bybel verklaar dat “hy wat glo en hom laat doop” gered sal word. Vandag aanvaar Christene dat ons oor die dooptekste verskil sonder om oordele daaroor te fel.

 

Ek wonder dikwels hoe geskeide gelowiges in tweede huwelike, vroulike predikante, gelowige mans wat hulle vroue as hulle gelykes ag en na vroulike predikante se preke luister, bevryde Christenvroue wat ook nie aan hulle mans onderdanig is nie, mans wat lang hare dra en vroue wat sonder ʼn hoed op die kop kerk toe gaan, langbroeke, juwele en grimering dra en hulle hare optooi, in 2014 hulle eie kinders seer kan maak deur vir Paulus te vra wat hy van hulle seuns en dogters se biologiese samestelling dink. Wat veroorsaak dat hulle Romeine 1 se destydse natuurkennis as Godsopenbaring aanhang wanneer moderne navorsing aantoon dat hulle kinders se homoseksualiteit nie onnatuurlik is nie, maar aangebore? Paulus het eeue voor die wetenskap geleef. Sy opinie dat homoseksuele uit eie keuse en as gevolg van geestelike perversie teen hulle natuur draai, is verkeerd bewys. Dit doen soveel skade aan gay lidmate en gay tieners dat hedendaagse predikante en ouers sy woord oor homoseksualiteit as wet aanvaar, terwyl hulle sy ander wette met moderne redenasies omvergooi.

 

ʼn Twee-en-twintigjarige man vertel my hoe sy ouers hom seermaak met aggressiewe preke aan etenstafel en vernederende briefies oor sy homoseksualiteit wat hulle gereeld onderdeur sy kamerdeur stoot. Hy is regtig een van die mees opregte gelowiges wat ek ken. Hulle laat hulle deur die onkundigheid van 2000 jaar gelede se mense lei om hulle eie seun se gemoed te kwes, terwyl hulle nie wil lees wat navorsing oor homosekualiteit oplewer nie. Ek weet dat nie alle ouers van gay kinders so optree nie, maar dit is vir my hartseer dat enige moderne ouerpaar met goeie bedoelings hulle eie kind soveel skade kan aanrig. Hulle glo dat hulle seun se “rehabilitasie” die suksessyfer van die ex-gay bewegings met een kan laat styg, terwyl die ex-gay bewegings  se statistieke net so onakkuraat as die SAPD se misdaadstatistieke is.

Ek kry talle ontboesemings wat hulle “suksesverhale” per e-pos aan my rig. Ek wens dat al daardie “ex-gay” Christene openlik en sonder vrees met hulle ouers en kerke oor hulle volgehoue gay-wees, en die hel wat dit veroorsaak om die front van oorwinning en genesing voor te hou, wou praat. Hiervan weet niemand behalwe die gays teenoor wie hulle bieg nie. Dit vreet hulle op om oneerlike “heteroseksuele” te wees wat hulle vroue en hulle gemeentes tevrede hou met getuienisse van bevryding, net om veilig in die kas te mag bly. Om nie te praat van hoe skuldig hulle voel omdat hulle gedurende etenstyd in Adult World inglip om skelmpies te gaan “speel” in die hoop dat hulle gay drange nie hulle huwelike in die slag sal laat bly nie. Ek is wel baie dankbaar daaroor dat Exodus, die grootste ex-gay beweging in Amerika, onlangs tot `n val gekom het nadat hulle leier oor die onsuksesvolheid van die program getuig en om vergifnis gevra het vir die skade wat hulle in gays se lewens berokken het.

 

Ek het vir jare met my eie gay-wees en met die Bybel se opvatting daaroor geworstel. My pastore en teologiedosente het saam met my in die troebel waters van antieke reëls geswem. In die teorieë oor afwesige of kwaai pa’s en dominerende ma’s. Teorieë wat seksuele oriëntasie en geslagtelike identiteit met mekaar verwar. Om van die opvatting dat homoseksualiteit  ʼn demoniese besetting is nie eens te praat nie. Of die opvatting dat alle mense heteroseksueel geskape word, wat die antieke mensdom uit hulle oppervlakkige waarneming van mans en vroue afgelei en in die storie van Adam en Eva aan ons deurgegee het. Dis `n opvatting wat ons homofobies en onkundig oor die gevarieerdheid van menslike seksualiteit maak. Lank voor Adam en Eva was daar al ʼn Lettie en Hettie ook.

Ek kan in alle opregtheid net nie meer oor ander sake saam met moderne mense stem en dan skielik oor gay-wees nog soos antieke Israel dink nie. Om antieke gedagtes oor homoseksualiteit vandag as God se gedagtes aan geestelik soekende gays voor te hou, doen die Here nie eer aan nie – dit skep eerder die indruk dat Hy  agter die klip is.  Vergewe my dat ek dit so sterk stel, maar ek sien dikwels hoe gay gelowiges teen die kerk en die Bybel draai as gevolg hiervan. Dit pleeg juis, ironies genoeg, geweld teen die Christenboodskap. Ek ken gemaakte ateїste wat eintlik diep gelowig is, maar nie weet wat om met die hele storie van God en homoseksualiteit te maak nie. Talle gays wat tot bekering kom begin later in die Here twyfel omdat hulle die “Bybelse” Christelike lewe onuitvoerbaar vind –  ʼn mens se behoefte aan liefde en ʼn lewensmaat word nie soos ʼn humeur of ongeduld deur die Heilige Gees oorwin nie, al leef jy hoe naby aan God.

Daardie “Bybelse” perspektief pleeg ook geweld teen ons as gay gelowiges se verhouding met God omdat ons behoefte aan liefde en saamwees met die donkerte en skadelike walglikheid van werklike sondes vergelyk word. Die behoefte aan homoseksuele liefde kan ook nie met patologiese afwykings soos pedofilie en bestialiteit in een hoed gegooi word nie. Maar voordat heteroseksuele Christene dink dat ek hulle as sondebokke uitsonder, moet ek in alle regverdigheid erken dat ons almal inkonsekwente wesens is. Sommige van ons minder en ander meer. Ons as gay Christene maak ons net so aan subjektiewe huldiging van Bybelse voorskrifte skuldig. Ons maak vrede daarmee dat ons Paulus se perspektief in Romeine 1, dat gay-wees onnatuurlik en `n keuse is, mag heroorweeg of ignoreer, maar klou krampagtig aan ander antieke en verkeerdbewese Bybelse perspektiewe vas. Vars redenasies vir ons eie gay lewens, maar vir ander mense ruk ons ʼn klomp reëls van die rak af wat in 1910 reeds ingelê is – in die dik stroop van ʼn Sinodebesluit. Soos die jong gay paar wat my een aand kom vra of ek hulle sal trou. In die loop van ons gesprek vertel hulle my opgewonde hoe hulle hul lewens op al die waardes bou wat “die Here vir ons in die Bybel laat neerskryf het”. “Ek glo dat alles wat die Bybel sê eenhonderd persent letterlik opgeneem moet word,” sê die een met met groot oortuiging aan my kombuistafel.

Hoe het hy die Bybel se uitlatings oor gays gemis?

Ek het hom nie oor sy inkonsekwentheid aangetree nie, want dit was laataand en ek was moeg, maar agter my stil mond het ek kliphard gewonder hoe hy so inkonsekwent kan wees om te glo dat sy ma “ʼn huisvrou móét wees omdat die Bybel so sê”, terwyl hy en sy manlike lewensmaat alte vrymoedig voor die kansel wil gaan staan om te trou! Ek het in my bed lê en wonder of hy dommerig is, of bloot te lui om te dink. Toe besef ek dat hy nie dom of lui is nie, maar bloot menslik. Ek kan net sowel my eie naam op die domkoplys plaas, want ons almal raak vasgevang in die opvattings waarmee ons gebreinspoel is, en al wanneer ons dit regkry om daaruit los te breek, is wanneer dit ons eie lewens ongemaklik maak. Die reëls wat ander se lewens ongemaklik maak, word nooit hersien nie. Dis jammer, dis dom, maar dis nou maar eenmaal hoe ons is. Die letter maak ons koppe hard en ons harte dood. Prefek-agtig, soos ʼn hoofseun in Graad 12.

 

Jare gelede kapittel ʼn man my omdat ek die gay verse durf teёspreek. Ek en hy het een aand by `n troue lank gepraat oor hoe wonderlik dit is dat die twee geskeides mekaar in ons gemeente raakgeloop het – en hoe jammer dit was dat sekere lidmate gevoel het dat ek verkeerd was om hulle, teen die Bybel se voorskrif in, in die huwelik te bevestig. Dit het my daarom onkant gevang toe ek hom een middag in Rosebank Mall raakloop en hy skielik streng raak toe hy met my oor my homoseksualiteit begin praat. Hy sê dat ek ʼn instrument in die hand van die Antichris is en verduidelik dat my ignorering van die gay tekste die eerste is van ʼn hele rits teks-ignorerings wat nog in die eindtyd gaan volg. Hy glo dat Satan dit gebruik om die gesag van die Woord in die lewe van die moderne gelowige af te breek.

Die hele tyd terwyl hy praat is ek stom verbaas dat hy klaarblyklik nie eers daaraan dink dat hyself intussen Jesus se voorskrif oor hertrou met gewetensgemak oortree het nie; hy is met ʼn geskeide vrou getroud. Hoe dan nou? My rasionalisering rakende die gay tekste is dan mos nie die eerste in ʼn lang ry van “bose eindtyd-ondermynings” van die gesag van die Woord nie. Sy eie hertrou-etiek is al jare deel van die Protestante kerke se algemeen aanvaarde verbrekings van die Bybelse norme.  As ons in die Vatikaan staan en praat het, sou die Pous hom ses van die bestes gegee het oor sy “onbybelse” huwelik.

Sy vrou het na haar egskeiding mooi-getooi in die kerk sit en loer of daar nie ʼn tweede kans op geluk iewers in die banke sit nie. Hy was daardie tweede kans. Sy het hom as ʼn geskenk van die Here beskou. Die einste God wat `n huwelik met `n geskeide verbied het. As `n mens daardie verbod letterlik moet opneem, was hy ʼn versoeking wat Satan oor haar pad gebring het en nie ʼn geskenk van God nie. Dit maak in die lig daarvan dus nie sin dat hy daarop aandring dat ek vir die Bybel vra hoe die Here oor my gay-wees voel en dat hy beweer ek speel met vuur omdat dit baie duidelik in die Bybel staan dat my leefstyl verbode is nie. My sonde het sonde gebly en syne het sedert die Bybelse tyd van status verander.

Hierdie eensydige fiksasie op Bybelse opvattings verwar tans baie gays wat in die kerk grootgeword het, want hulle het eerstehands beleef hoe die kerk se norme oor ander dinge aangepas word. Omdat hulle hulself nie teen die kerk se afwysing mag verweer nie, laat die uitsluiting hulle dikwels in depressie beland. Talle jong gays is al bang-bang in hulle grafte in. Sonder die Here se vrede. Koeël in die kop. Die “Here se Woord” het hulle lewens verwoes, want dit was nie uitvoerbaar nie. Dis `n baie hartseer realiteit. Oor ander sake is die Bybel nie meer die-Here-in-boekvorm nie, maar omdat soveel gelowiges nog God se denke oor homoseksualiteit met die antieke Jode s’n gelykstel, hou gay gelowiges se vriende begrafnis. Hulle kameras kliek op kisruikers. Daarteenoor hou geskeides bruilof en die kameras kliek op hulle vrolike glimlagte.

Hoe het dinge so ontwikkel? Beide Paulus en Jesus het hertrou verbied, maar geskeide gelowiges sien nie daarvoor kans om vir die res van hulle lewens alleenlopers te wees nie, daarom moes die kerk oor die verbod herbesin. Ter wille van die liefde se warmte is ons as Protestante nou ten gunste van die onbybelse tweede huwelik. Dit doen niemand skade nie. Is ek dan onredelik om te vra: Gun my nou dit wat geskeides al jare lank gegun word: die liefde se warmte in ʼn “onbybelse” verbintenis. Ek is binne-in een, en ek ly nie skade nie.

 

Ek en my gewese lidmaat kon die gesprek nie afhandel nie, want sy vrou het gebel; hy moes so gou as moontlik huis toe kom en hy moes onthou om melk saam te bring, want dit was hulle beurt om die selgroep te ontvang daardie aand. Hy is haar tweede man. Die eerste een lewe nog. Sy sal nooit weer met hom trou nie, al sê Jesus so. Sy wou ook nie enkellopend bly nie, al het Jesus gesê sy moet.

Sy bak singend ʼn bordjie eetgoed sodat daar darem iets by die tee kan wees sodra haar onbybelse  man sy Bybelstudie-lesing vir die aand afgesluit het.

Ek het huis toe gery, na mý onbybelse man toe, en gedink dat die hartoorplanting wat die wedergeboorte bring nie die probleem van eensydige Bybelsheid oplos nie omdat `n mens se kop nie maklik skuif nie.

 

Dit is wonderlik dat die Christelike kerk soveel in haar etiek gevorder het, maar dit moet nou in `n dik stroom na gays en vroue ook begin oorspoel. Dat geskeide heteroseksuele uit moderne denke bevoordeel word, is bevrydend. Ons as gays, en saam met ons, die vrou in haar ondergeskiktheid aan die patriargale sisteem, is uiteindelik ook besig om onsself te bevry. In die jare toe die wet mondelings oorgedra is, was die wysheid van die geloofsvaders baie meer plooibaar. Dis die skryfkuns wat voorskrifte laat stol het. Dis die skryfkuns wat wysheid laat vries het soos laasjaar se vis. Vars vis is beter. Vandag se vangs. Of anders moet mens darem net ten minste die bevrore vis ontdooi en kyk of dit nog eetbaar is.

Wil ek daarmee sê dat daar iets verkeerd is met `n vrieskas? Geensins; ek probeer net sê dat `n mens kos wat baie jare lank reeds onder in die vrieskas lê, moet ondersoek om te sien of dit nie dalk te oud is om geëet te word nie. Die skryfkuns is so wonderlik soos `n vrieskas, want dit het baie wyshede vir ons behoue laat bly, maar dit het ook stokou idees daarmee saam gevries. Idees wat te oud is om te sluk as jy gesond wil bly. Ons skryf in sommige gevalle simplistiese handleidings wat op die Bybel gebaseer word, terwyl die Heilige Gees buite die kerk op die trappies sit en huil omdat Hy nie ʼn moderne spreekbeurt inkry nie. In die beoordeling van gays se lewens volstaan baie kerke nog met daardie gestolde wet. Die bevrore vis wat so koud op mens se tande is dat jou kop daarvan pyn. Ek vra mooi dat ons die bevrore gay tekste moet laat ontdooi en vir eetbaarheid ondersoek met die hitte van `n liefdevolle gesprek tussen gay- en straight gelowiges, want moderne gays spartel benoud in die waters van dogma. En die drenkelinge is baie.

Sjoe.

 

Ek besef egter dat dit meer as net die Pauliniese boei is wat die moderne samelewing aan die Bybel se opvatting oor gays vasketting. Die diepgesetelde homofobie ontspring ook uit ander oorde. Dit is met veel meer as net Paulus se briewe onder die arm dat mense voel die regverdiging van homoseksualiteit voer die moderne ontwikkeling daardie een stap te ver. Omdat die saak soveel fasette het, vra ek dat gelowiges wat Paulus se ander boeie met goeie rede afgegooi het, my die geleentheid sal gee om te verduidelik hoe ek daaraan gekom het om sy boeie vir gays van my gewrigte af te gooi. 

Mandi Botha was die redigeerder van Aikona Moses!. Sy kan hier bereik word.

Alison Gouws het die boekomslag van Aikona Moses! ontwerp. Sy kan hier bereik word.

Jacques Bessenger het na die eerste draft van Aikona Moses! ure lank oor vele potte tee waardevolle aanbevelings gemaak. 

0828732484